English website

Tydlyn van haar lewe

Grootwordjare

Dalena (Dalene) Matthee (née Scott) is op 13 Oktober 1938 op Riversdal in die Suid-Kaap gebore. Haar ouers was Danie Scott ('n regstreekse afstammeling van sir Walter Scott) en sy vrou Hester. Haar pa was 'n bouer en haar ma 'n huisvrou. Dalene was die middelste van vyf kinders. Sy was 'n leerling aan die Hoërskool Langenhoven op Riversdal en sy is reeds op skool vir haar besonderse opstelle geprys.

Oor haar huwelik, kinders en skryfwerk
  • 1957, Riversdal
    Dalene het op 18-jarige ouderdom met Larius Matthee, 'n bankklerk by Standard Bank op Riversdal, getrou. Hulle het kort daarna Oudtshoorn toe verhuis.

  • 1957 - 1962, Oudtshoorn
    Dalene skryf haar in by Van Zyl se Musiekskool vir verdere musiekopleiding. Twee jaar later (1959) is hul eerste dogter, Amanda, gebore. Agtien maande later (1961) volg 'n tweede dogter, Toni.

  • 1962 - 1967, Darling
    Larius is later na Darling naby Kaapstad verplaas en drie jaar later (1964) is 'n derde dogter, Hilary, gebore. Dit is hier waar Dalene begin het om kinderstories vir die SAUK se kinderradioprogram Siembamba te skryf sodat sy die gesin se inkomste kon help aanvul. Voor sy 'n storie vir Siembamba sou stuur, het sy dit eers aan haar kinders voorgelees.

    As hulle tot die einde geluister het, het sy geweet die storie werk. As hulle begin het om met die kombers se punte te speel, het sy geweet sy moes dit oorskryf. Sy het in hierdie tyd gereeld gholf gespeel en selfs in 'n stadium 'n vrouegholfwedstryd in Rondebosch, Kaapstad, gewen.

  • 1967 - 1971, Graaff-Reinet
    Die Matthee-gesin het in 1967 na Graaff-Reinet verhuis waar Dalene 'n halfdagpos as kurator by die Hester Rupert Kunsmuseum aanvaar het en by dr Anton Rupert se restourasiespan aangesluit het. Sy was onder meer betrokke by die restourasie van Stretch's Court.

    Sy het begin om kortverhale vir gewilde tydskrifte soos Die Huisgenoot en Sarie te skryf, en gesê sy sal "nooit 'n roman skryf nie, want sy weet nie waar mense soveel inligting vir 'n hele boek in die hande kry nie". Sy behaal sy haar lisensiaat in klavier onder leiding van Sister Felix by die Holy Cross Convent.

    Haar enigste kinderboek, Die Twaalfuur-Stokkie (The Twelve O'Clock Stick), is in dié tyd gepubliseer.

  • 1971 - 1978, Uniondale
    In 1971 trek die Matthee-gesin Uniondale toe in die Langkloof (Suid-Kaap) waar Larius as bankbestuurder by die plaaslike tak van Standard Bank aangestel is. Dalene gebruik die ondervinding wat sy as lid van dr Rupert se restourasiespan opgedoen het om twee historiese geboue op Uniondale te restoureer: die watermeul en 'n ou fort uit die Boereoorlog.

    In 1977 begin Larius se gesondheid agteruit gaan en hy tree vroeër af. In 1978 verhuis die gesin na Hartenbos naby Mosselbaai in die Suid-Kaap. In hierdie tyd verskyn verskeie kortverhale. Van hulle is saamgevat in die boek Om 'n man te koop, wat ná haar dood verskyn het.

  • 1978 - 2003, Hartenbos
    Die gesin se verhuising na Hartenbos was 'n keerpunt in Dalene se skryfloopbaan omdat sy hier aan haar eerste Bosroman begin werk het. Teen die einde van 1978 gaan sy op 'n driedag-staptog in die Knysna-bos saam met haar man, haar dogter Amanda en haar broer Hardy en skoonsuster Mineé.

    Toe hulle by die Millwood-oornaghut op die Outeniqua-staproete aankom, begin sy om vrae oor die uitheemse akkerbome in die middel van 'n inheemse woud te vra. Ná die staptog is sy na die museum op Knysna om meer oor die oorsprong van die bome uit te vind. Om 'n lang storie kort te maak: Sy het 'n goudmyn van inligting ontdek wat uiteindelik die onderbou van haar vier "Bosboeke" gevorm het. Sy het nog klavier gespeel tot sy aan Kringe begin skryf het.

    Haar man het eers ná drie maande agtergekom dat sy die klavier vir die pen verruil het. Dalene se man Larius is in 2000 aan kanker oorlede.

    In hierdie tyd verskyn 'n Huis vir Nadia, Petronella van Aarde, Burgemeester, Die Judasbok, Kringe in 'n bos, Fiela se kind, Moerbeibos, Brug van die esels en Susters van Eva.

  • 2003 - 2005, Mosselbaai
    In 2003 trek Dalene Mosselbaai toe waar sy haar vierde "Bosboek" - Toorbos (Dream Forest) - skryf. Daarna skryf sy nóg 'n historiese roman, Die Uitgespoeldes (Driftwood).

    Sy het die vertaling van Die Uitgespoeldes tien dae voor haar onverwagse dood weens hartversaking klaargemaak.




Dalene Matthee op skool


Dalene Matthee se troudag


Dalene Matthee 1969


Dalene Matthee 1973


Dalene Matthee 1980s


Dalene Matthee 2004


Dalene Matthee, South African author of 13 books, is well known for her four "Forest Books" set in the Knysna Forest. Her books have been translated into 14 languages.
English website



Foto's van hierdie webwerf mag nie sonder toestemming gebruik word nie.
Foto's © Hylton Herd en Anneri van der Merwe .


Amptelike webwerf van Dalene Matthee.
Alle regte voorbehou.
Kopiereg © Dalene Matthee (Edms) Bpk 2016.

Website designed and hosted by
S2 Web Solutions